Klaer het beswaar gemaak teen ‘n nuusitem waarin vermeld is dat hy betrokke is by die opleiding
van bendes. Aangesien hierdie klagte moontlik sou kon lei to ‘n siviele saak teen die SAUK, het die SAUK in Limine versoek dat daar uitsluitsel gegee word oor die vraag of Klaer bereid sou wees om afstand te doen van sy regte om dieselfde aangeleentheid in ‘n siviele hof aan te gee. Die Voorsitter moes beslis of dit billik sou wees om dit van die Klaer te eis. Klaer het geargumenteer dat hy as lid van die publiek geregtig was om ‘n klagte in te dien en dat ‘n afstanddoening van regte gevolglik nie op hom van toepassing is nie. Tweedens het Klaer geargumenteer dat dit in elk geval onbillik teenoor hom sou wees indien hy nou moes afstand doen van sy regte om ‘n siviele hof te nader. Daar is geargumenteer dat dit op hierdie stadium onmoontlik sou wees vir Klaer om te bepaal watter omvang sy skade sou aanneem as gevolg van die stellings in die program.
Die Voorsitter van die Kommissie het beslis dat aangesien die klagte wesentlik die elemente bevat van ‘n eis gebaseer op laster, dit onbillik sou wees om die Respondent te onderwerp aan so ‘n verhoor voor die Uitsaaiklagtekommissie. Dit sou beteken dat die Klaer vir ‘n tweede keer onderwerp sou kon word aan dieselfde klagte. Gevolglik is die versoek van die Respondent dat daar ‘n afstanddoening geteken moet word, gehandhaaf.
Klaer het toe aangedui dat hy nie kans sien om met die verhoor voort te gaan nie en die aangeleentheid is sine die uitgestel.