‘n Klagte is ontvang dat die gasvrou gedurende `n etensuur program op Radio 702 die Uitsaaikode radiooortree het deur die eerste klaer te betrek by bomontploffings, waarvoor hy geensins verantwoordelik was nie. Die eerste klaer is omtrent `n dekade gelede aan moord skuldig bevind. Gedurende die ondersoek het dit geblyk dat hy onder die naam van `n organisasie bekend as die “Wit Wolwe” funksioneer het en dat rassisme aanleiding gegee het tot die dade.

Die dag voor die uitsending wat nou ter sprake is, was daar nuusberigte dat `n organisasie met `n naam wat ook die woorde “wit wolwe” insluit, moontlik betrokke was by twee bomontploffings in die Kaap. Na aanleiding hiervan het die gasvrou vrae begin vra oor die relevansie van die Wit Wolwe bine `n nuwe Suid-Afrika. Negatiewe stellings is gemaak en daar is ook vernederend na die grootte van die brein van `n persoon verwys wat vandag nog deel sou kon wees van rassistiese optrede . 

Die Tribunaal het bevind dat aanvaar moet word dat die term “Wit Wolwe” `n generiese uitdrukking geword het vir rassistiese optrede en dat die eerste klaer nie maklik hieraan sal kan ontglip nie. Dit beteken egter nie dat die eerste klaer nou ook sommer goedsmoeds beskuldig kan word van dade wat hy nie gedoen het nie. Hy het, soos enoige ander burger, die reg op sy waardigheid en goeie naam. 

Die Tribunaal het bevind dat die stellings wat gemaak is op die grens van `n oortreding van die Kode beweeg. Die stellings oor die “klein brein” is dan ook  in swak smaak. 

In die onderhawige geval is die term “Wit Wolwe” egter in `n generiese vorm gebruik en nie as verwysend na die eerste klaer of sy organisasie as sodanig nie. Die kritiek is uitgespreek teen rassisme en die term is daarby betrek. 

Aangesien die woorde wat gebruik is maklik tot misverstand aanleiding sou kon gegee het, is die Tribunaal van mening dat die Respondent gemaan moet word om versigtiger op die terrein te beweeg . Die klagte is van die hand gewys.

CLICK TO VIEW FULL JUDGMENT